Video
GEORGE NUUS - Groenkloof-aftreeoord het vanjaar geen steen onaangeroer gelaat om Wêreldwelstanddag te vier nie.
Die eksentrieke Rocco de Villiers het op Vrydag 13 en Saterdag 14 Junie die verhoog betree vir twee onvergeetlike vertonings.
In 'n inspirerende viering is die aftree-oord se inwoners bederf met twee konserte deur hierdie geliefde pianis en vermaak-likheidskunstenaar. Sy meesterlike klavierspel op 'n honderd jaar oue Imler-vleuelklavier en sy kenmerkende humoristiese vermaak is hartlik deur die gehoor van meer as 400 inwoners ontvang.
Die konserte, wat in die Jan Pienaar-sentrum by Groenkloof Woods aangebied is, het inwoners van George, Groot-Brakrivier en Reebok byeengebring vir 'n viering van musiek en gemeenskapsamehorigheid.
Die oordbestuurder in George, Martin Barnard, het uitgelig hoe só 'n geleentheid nie net sorg vir vermaak van wêreldgehalte nie, maar ook hoe lag, musiek en samehorigheid 'n diepgaande bydrae lewer tot die emosionele en sosiale welstand van inwoners.
Die sukses van die konserte onderstreep Groenkloof se holistiese benadering tot inwonersorg.
"Ons verstaan dat welstand 'n multi-dimensionele konsep is," sê Daniel Murray, direkteur van die Groenkloof-sorgsentrum. "Fisieke aktiwiteit en gesonde eetgewoontes is belangrik, maar sosiale interaksie en kulturele verryking is ewe noodsaaklik vir 'n vervullende lewe."
Dr. Annétia Heckroodt en haar man, Bertie, het die konserte saam met inwoners van Groenkloof geniet. Foto's: Paul Rixom
Die glansgeleentheid is moontlik gemaak deur die Groenkloof-stigting, Garden Route Healthcare en die Groenkloof Woods-huiseienaarsvereniging, wat hul pragtige fasiliteit beskikbaar gestel het.
Die stigting beywer hulle daarvoor om isolasie en eensaamheid onder senior burgers te bekamp en kulturele byeenkomste soos die konserte, bevorder betekenisvolle samesyn.
Soos die applous en glimlagte van die 400 aanwesiges bewys het, is die resep vir gesonde veroudering nie net in die gimnasium of die dokter se spreekkamer te vinde nie, maar ook in die samesyn van 'n gemeenskap, die vreugde van musiek, en 'n gedeelde ervaring wat almal verryk het.
Rocco de Villiers het die Groenklowers behoorlik bekoor nét soos hy kan.
Kyk na 'n video hieronder:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’