VERMAAK NUUS - Afrikaans, met sy wortels in Nederlandse dialekte en invloede uit Maleis, Portugees, Duits en plaaslike tale, het in die 17de en 18de eeu ontstaan. In 1925, met onder andere CJ Langenhoven as dryfveer, is dit as volwaardige amptelike taal erken. Vanjaar word die eeufees landwyd gevier, ook in George.
Saterdagaand, 27 September, het die Eden Camerata-kamerkoor 'n kultuuraand van Afrikaanse verse en melodieë in die St. Marks-katedraal se saal aangebied. Die gehoor, afkomstig van Mosselbaai tot Groot-Brak, het die saal volgepak, waar die versierings 'n ideale atmosfeer geskep het vir voordragte van gedigte deur Boerneef, TT Cloete, Olga Kirsch en ander. Die koor, onder leiding van dr. André van Zyl, het die poësie met sprankelende musiek verweef.
Verskeie werke van die geliefde komponis Chris Lamprecht is uitgevoer, onder meer die Totius-berymings van Psalms 8 en 23.
Groot was die vreugde dat Lamprecht self, 97 jaar oud, saam met sy vrou, Elza, die aand kon bywoon. Hy is met 'n staande applous vereer.
Koos du Plessis se As almal ver is is gelees voordat sy Gebed, in 'n koorverwerking deur Van Zyl, uitgevoer is. André van der Merwe se Die Donker het nostalgie ontlok, terwyl Louis van Rensburg se Voshaarnooi met flair deur die dames uitgevoer is.
Een van die hoogtepunte was Lamprecht se Kangoklanke, met klavierbegeleiding deur Anne-Marie Buchholz. Die werk, wat die stilte en majesteit van die Kangogrotte verklank, het 'n diep indruk gemaak. Dit sluit af met die woorde: Soli Deo Gloria, aan God alleen die eer.
Die afsluiting met die bekende Aandgesang, waar die koor rondom die gaste gesing het, was vir baie 'n emosionele ervaring.
Weens die groot belangstelling word die program op 25 Oktober herhaal, hoewel reeds vol bespreek.
'n Derde aanbieding op 26 Oktober in die Tolhuis of George-museum word oorweeg. Hou die media en Eden Camerata se Facebook-blad dop vir verdere besonderhede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’