VERMAAK NUUS - Die 20-jarige Duran Ruiters, 'n voormalige dramaleerder van Hoërskool George, se volharding om sy droom van 'n akteursloopbaan uit te leef, is besig om vorm aan te neem.
Hy is tans saam met name soos Clint Brink, Zolisa Xaluva en Connie Ferguson op Netflix te sien in die derde seisoen van die reeks Kings of Jo'burg wat op Vrydag 13 Junie vrygestel is. Ferguson is ook die vervaardiger van die reeks.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring om saam met mense van hulle kaliber te kon werk. Ek het só baie geleer en ek is geweldig opgewonde oor die toekoms," sê Ruiters.
Verfilming van die reeks het ongeveer vier maande geduur en het in Johannesburg en Kaapstad geskied. Ruiters speel die rol van Young Rip, 'n jongman wat vasgevang is in Johannesburg se onderwêreld, waar die Masire-familie regeer.
Ruiters het ook al sy verskyning gemaak in die TV-reekse Ouma Sarie, Juffrou X, Aunt Sylvia en Kelders van geheime, asook 'n kortfilm oor die Covid-inperking, Agter slot en grendel, waarin hy opgetree het terwyl hy nog in matriek was.
Hy sê hy was een van omtrent 5 000 mense wat die oudisie vir Agter slot en grendel gedoen het. "Ek het op Facebook 'n advertensie vir oudisies gesien en gegaan daarvoor. Uiteindelik het hulle slegs 20 mense gekies."
Behalwe vir talentkompetisies en produksies op skool waaraan hy in graad 11 deelgeneem het, was hierdie die eerste keer dat hy in 'n eksterne produksie gespeel het.
"Ek het hier besef ek soek meer as net die verhoog," vertel Ruiters, wat met sy onderskeiding in drama in matriek onder die topdramakandidate in die Wes-Kaap was.
Ruiters saam met Clint Brink.
Na skool het hy begin om van oudisie na oudisie te gaan, en dit het vrugte afgewerp, maar hy moes 10 maande lank vasbyt en male sonder tal tussen George en die Kaap reis voordat hy 'n rol in Kelders van geheime losgeslaan het.
Die rol in Kings of Jo'burg het hy gekry toe hy raakgesien is in 'n kleiner rol in 'n ander produksie. "Die regisseur wou weet wie ek is. Hulle het my raakgesien en dis baie bemoedigend."
In Kings of Jo'burg vertolk hy die rol van 'n jongman wat in die bendewêreld vasgevang word. "Met die verfilming het ons soms in gevaarlike plekke gewerk. Dit het tot die egtheid bygedra en het die rol wat ek vertolk het vir my baie werklik gemaak. Ek probeer myself altyd in die skoene van 'n karakter sit en ek glo ek speel iemand real."
Hy het geleer dis 'n moeilike, onvoorspelbare bedryf. "Die een dag het jy werk en die volgende dag moet jy weer soek. Maar ek glo 'n mens moenie dat ander jou laat dink jou drome is onbereikbaar nie, selfs al het jy nie 'n graad agter jou naam nie. Met God is alles moontlik.
"Ek is nie op soek na roem nie, maar wil met my toneelspel 'n voorbeeld stel. Ek sal nie gaan vir rolle wat teen my beginsels is nie."
’n Proudkallitlaaitie.
Sy ouers, Tanya en Derral, staan bankvas agter hom. Ruiters is ook 'n fotograaf en videograaf en het sy eie klerereeks (T-hemde en hoodies) onder die handelsmerk Proudkallitlaaitie.
"Met dié brand wil ek die boodskap uitdra dat dat ek trots is op my herkoms. En ek wil vir ander ouens sê dat 'n mens jou drome moet najaag en nie toelaat dat jou omstandighede jou toekoms steel nie."
Hy werk tans aan sy eie videoproduksies en het ook al 'n toneelstuk geskryf wat hy graag op die planke wil bring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’