GEORGE NUUS - Een van die dorp se kleurrykste sterre, Carly Adams, het haar 50ste verjaarsdagpartytjie in swier saam met vriende en familie gevier.
Carly het dié groot mylpaal op 17 Maart in die George-kunsteteater met die tema, Marilyn Monroe, gevier. Haar amptelike verjaarsdag het op 2 Maart geskied.
Bekend as die organiseerder van die kompetisies 'Miss Full Figure' en 'Little Miss George', is Carly ook deesdae betrokke by die beweging, S.H.E, wat fokus op die welstand en regte van transgender persone. Carly is die afgelope 25 jaar gemoeid met die haarindustrie, en besit die haarsalon Le Chic.
Vir haar spesiale dag het sy 50 gaste genooi, waaronder die George-raadslid Charlotte Clarke, en haar neef, raadslid Brendon Adams.
Uit die haarindustrie het Beulah Louw (Salon in Style) en Henry Loff (New Attitude) die gastelys gehaal. Carly maak spesiale vermelding van Samantha Rhode wat die canapés voorsien het, Marlene Nqumse (van Tuinroete-distriksmunisipaliteit) en Susan Pienaar.
"Ons het so 'n lekker partytjie gehad!" het Carly gesê.
"Almal was geklee in swart en wit, sommige het rokke met polka-dots aangehad."
Carly se wenke vir 'n gesonde voorkoms in jou vyftigs: "Kyk goed na jouself, na jou gesondheid. Kry genoeg slaap en bly besig met die mooi dinge van die lewe."
Gerty (links) en Lynelle Potts saam met Carly Adams (middel). Foto: Munro Photography
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’