GEORGE NUUS - Drie besonderse stemme span kragte saam in Asem, 'n produksie waarin digkuns, musiek en woordkuns die bron van lewe vanuit verskillende hoeke besing.
Petronel Baard met Lang Vrou Produksies kombineer die werk van digters Stef Kruger en Hannes Visser met haar eie toonsettings en oorspronklike musiek.
Ná die sukses van Asemhaal, wat Baard en Visser tydens die Prins Albert-leesfees in 2024 opgevoer het, en die goue oue, Verdubbel die Geluk van Baard en Kruger, word dié twee wêrelde nou in Asem saamgesnoer.
Die produksie is aanvanklik vir die opening van die eerste Despatch Boekmakietie geskep en word nou na George gebring. Visser gebruik die geleentheid om sy nuwe digbundel, Tussen Asem, bekend te stel, terwyl Kruger sy bundel Ontrafel, met 70 gedigte en hul ontledings, bekendstel.
Al die emosies is teenwoordig, van lekker lag tot goeie huil, en as jy jou piekniekmandjie en vriende bring, gaan dit nog 'n aand wees om te onthou.
Hannes Visser. Foto: Verskaf
Moet dit nie misloop nie
Die vertoning vind Vrydag 2 Oktober om 19:00 by die Attic Atelier in George plaas.
Kaartjies kos vanaf R200. Kroegfasiliteite is beskikbaar.
Vir besprekings: WhatsApp Petronel Baard by 082 737 8416.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’