GEORGE NUUS - Die NGK Blanco-gemeente in George vier hierdie jaar hul 75ste bestaansjaar met 'n vleismark en basaar op Saterdag 1 Augustus.
Die geleentheid word by die 4 Brothers-aartappelstoor aangebied en gaan na verwagting weer honderde Georgiete lok met topkwaliteit vleis en 'n feestelike basaar.
Die basaar begin om 08:00 en die vleisverkope om 09:00. Kopers kan reeds vanaf 08:00 'n nommer ontvang om hul plek in die tou van vleiskopers te bespreek.
Terwyl hulle wag vir 09:00, kan daar gesmul word aan pannekoek, sosaties, boereworsrolle, kerrie-en-rys, basaarpoeding, koek en die dors geles word met koffie en koeldrank.
"Soos verlede jaar sal daar meer as genoeg kwaliteit vleis teen die beste pryse in George beskikbaar wees," sê ds. Francois Mulder, een van die leraars.
"Vanjaar is daar 25 beeste, 30 skape en lammers en 750 kg wild wat verwerk is in beeswors, maalvleis, asook bees- en wildspatties. Die beroemde Blanco-worsresep is 'n goedbewaarde geheim."
Daar sal ook kindervermaak soos gesigverf, ballondraai, 'n springkasteel en lekkergoedtafel wees.
Volgens Mulder het die gemeente 'n passie om die groter gemeenskap te dien en wil hulle vanjaar die volle Vleismark-wins gebruik vir hul diensbegroting.
Dit sluit in ondersteuning en betrokkenheid by die Agape George-hospitaalprojek, Badisa, Blanco-crèche, Love Looks Like Something, Golden Valley-crèche, Laerskool Blanco, Laerskool Kretzenshoop, Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum, JJ Watson Tehuis vir Bejaardes, Up With Downs en 'n voedingskema.
Vir enige navrae, kontak Gerda by die kerkkantoor by 044 8707 595 of WhatsApp na 062 900 8208.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’