GEORGE NUUS - Die plaaslike tak van Solidariteit Helpende Hand het op Vrydag 13 Februarie die inwoners van Huis Harmonie bederf met ’n vrolike Valentynsviering wat gesorg het vir gesellige samesyn.
Die dag is gekenmerk deur smaaklike eet- en drinkgoed, asook wegneem-lekkergoedpakkies wat met groot waardering ontvang is.
Ou gunsteling-musiekversoeke is gespeel wat die gaste kosbare herinneringe uit vervloë jare laat herleef het. Inwoners het saam gesing en selfs versoek dat die volume harder gedraai word. Party het selfs die kans aangegryp om ’n bietjie te dans.
Groot opwinding het tydens die Bingo-sessie geheers, waar dit duidelik geword het dat die breine steeds vlymskerp is. Gelag en vriendelike kompetisie het die atmosfeer opgehelder.
Volgens Tracey Weideman, voorsitter van die plaaslike Helpende Hand-tak, was die dag besonder betekenisvol. “Wat ’n voorreg om op ’n dag van liefde, God se liefde te kon uitdra."
"Vir die inwoners is ’n gewone dag omskep in ’n spesiale geleentheid vol lag en warm samesyn, ’n herinnering vir ons dat klein gebare ’n groot verskil kan maak."
Sandra en Roelof Louw
Laurette Andrews was een van die gelukkige Bingo wenners.
Fokus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’