GEORGE NEWS - God Cares International van Pacaltsdorp is vanjaar 20 jaar oud en het dié groot mylpaal op Vrydag 12 September met 'n spesiale program vir die Syferfontein-gemeenskap gevier.
Die gaste het geluister na praatjies oor gesondheid deur drs. Nilene van Velden Moles en Danie Lotriet, asook 'n bemoedigende boodskap deur Lydia Bruiners, 'n ouderling van die AGS Pacaltsdorp.
Elizabeth Krutzler van die Door of Hope Clinic het die gehoor laat litte losmaak met oefeninge op die maat van vrolike musiek.
Om dankie te sê aan die vrywilligers en borge wat God Cares se uitreike in die gemeenskap moontlik maak, het die voorsitter, Debbie Pijoos, hulle verras met geskenkies en sertifikate.
Pijoos het gesê dit sou onmoontlik wees om hul gemeenskapsdienste aan te bied sonder die hulp en werk van almal wat betrokke is. Almal wat vir die organisasie werk is vrywilligers. Pijoos het God Cares gestig met 'n visie vir armoedeverligting.
Een van die vrywilligers, Angelique Nieman (regs) ontvang haar sertifikaat van Debbie Pijoos, God Cares se voorsitter.
"Ek het gesien hoe kinders kos by bure kry en so begin om ook kos te gee en 'n verhouding met die kinders te bou. Dit het daartoe gelei dat ek by hul gesinne betrokke geraak het.
"Die eerste 10 jaar het ek spandeer om gesinne te help om hul lewensomstandighede te verbeter. Projekte is volgens nood begin en ons het as skakel begin dien tussen die regering, kerke en ander organisasies sonder winsbejag.
Dr. Nilene van Velden Moles het ’n gesondheidspraatjie gehou.
"Ons het oor die afgelope 20 jaar gesien hoe mense se lewens verander het. Daar was mense wat geen hoop of toekomsverwagting gehad het nie.
"Eers was hulle slagoffers van hul omstandighede, maar die einste mense wat ons gehelp het, is nou die ondersteuningstruktuur van die organisasie. Mense kán verander en met baie liefde en sorg, kán daar 'n beter einde wees."
God Cares voed daagliks 350 mense by twee versamelpunte waar mense van Pacaltsdorp, Rosedale en Reigerpark kospakkies gaan afhaal.
Debbie Pijoos, God Cares se voorsitter saam met Nicci Passanah van die Soft Landings-stigting, ’n ondersteuner van God Cares.
Maria Jacobs (regs) van Anton le Roux Vervoer is die sopkoker vir God Cares se voedingskema. Sy ontvang haar geskenkie van Debbie Pijoos.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’