GEORGE NUUS - Wanneer een persoon bereid is om sy tyd en kundigheid onbaatsugtig te gee, kan dit 'n blywende verskil in 'n gemeenskap maak.
Só iemand is dr. Japie Lubbe van Just Vision Optometrists in George, wat al meer as 25 jaar lank betrokke is by oogklinieke in Uniondale.
Die Uniondale Lionsklub het jare gelede die behoefte aan oogtoetsing in hul plaaslike gemeenskap raakgesien en Lubbe genader om te help. Hy het sonder huiwering inge-stem om 'n dag van sy tyd af te staan om 'n oogkliniek aan te bied.
Volgens Lubbe het dit altyd op sy hart gelê om iets terug te gee aan 'n gemeenskap wat dikwels afgesonder is en beperkte toegang tot gespesialiseerde oogkundige dienste het.
Aanvanklik het hy slegs een oogkliniek per jaar aangebied, maar namate die behoefte gegroei het, is dit uitgebrei na vier klinieke per jaar.
Lubbe beskryf elke kliniek as 'n besondere ervaring en sê die opregte dankbaarheid van pasiënte bevestig vir hom dat sy bydrae 'n werklike verskil maak. Baie mense wat voorheen skaars kon sien, ontvang nou getoetste brille wat hul lewenskwaliteit aansienlik verbeter.
In die begin het Lubbe sy eie toerusting saamgeneem, maar later het die Lions besluit om 'n permanente oogtoetsapparaat vir Uniondale aan te skaf. Tydens elke kliniek word pasiënte se oë getoets en gevalle soos katarakte geïdentifiseer.
Voorskrifte word aan Lions BrightSight gestuur, 'n internasionale Lions-program wat brille aan minderbevoorregte mense voorsien. Die koste hiervan, asook dié van die klinieke, word onder meer uit fondse wat deur die Karoo2Coast-fietsren ingesamel word gefinansier.
’n Pasiëntjie kry 'n oogtoets.
Waar daar voorheen sowat 40 oogtoetse per jaar gedoen is, is 175 mense se oë die afgelope jaar getoets, insluitend kinders. Tydens 'n onlangse kliniek is katarakte selfs by twee vyfjariges gediagnoseer.
"Die Uniondale-gemeenskap en lede van die Lions spreek hul diepe waardering uit teenoor dr. Lubbe se volgehoue betrokkenheid.
"Sy diens bring nie net beter sig nie, maar ook hoop en menswaardigheid aan baie wat andersins sonder hulp sou wees," sê Gert Olivier, president van die Uniondale Lionsklub.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’