GEORGE NUUS - Die George-tak van Solidariteit Helpende Hand het op Maandag 3 Augustus ’n hartverwarmende oggend saam met die 46 leerders van Laerskool Herold deurgebring.
Dit was ’n dag gevul met omgee, speletjies en bederf. Elke leerder het ’n paar handskoene ontvang wat met liefde deur die Breiklub van Huis Harmonie in George gebrei is.
Die wol en breinaalde is deur vrywilligers geskenk. Hierdie gebaar is ’n manier hoe die breiklub op hulle beurt weer teruggee aan die gemeenskap.
Die oggend is afgeskop met spanspeletjies wat deur Laurel Prinsloo van Sunny House Eco Ventures aangebied is. Die leerders het met oorgawe deelgeneem en uitbundig gelag en geskerts. “Dit is die gehoorsaamste groep leerders waarmee ek nog gewerk het,” sê Laurel.
Daarna is elke leerder bederf met ’n worsbroodjie, sap en ’n kolwyntjie. “Ons kon die kinders en personeel bederf deur die finansiële bydrae van ’n anonieme donateur, sê Tracey Weideman vrywilliger van Helpende Hand.
Op die speelterrein: Van links is Tyler Lancaster, Malachi Lancaster, Zak Oosthuizen, McKenzie Hapgood-Strickland, Leandrie de Jager en Èden du Preez. Foto's: Verskaf
Nog ’n vrywilliger, Karen du Plessis, het ook ’n behoeftebepaling gedoen, met die klem op ondersteuning aan die personeel en identifisering van spesiale behoeftes by die leerders.
“Dit is bemoedigend om te sien hoe hierdie handjievol personeel, met die minimum middele, ’n veilige en stimulerende leeromgewing skep,” sê Surina Raubenheimer vrywilliger van Helpende Hand.
“Ons is dankbaar vir die klein verskil wat ons kon maak en hoop om dit in die toekoms voort te sit.”
Deney Bredenhann, Taliyah Botha en Michael Serfontein speel al te lekker.
Bianca Smith, waarnemende skoolhoof, het haar dank en waardering uitgespreek. Sy sê: “Dit voel partykeer of die gemeenskap van ons, Laerskool Herold, hier anderkant die berg vergeet.”
Die George-tak se betrokkenheid is nog ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe mekaar kan dra, versterk en bemoedig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’