Min 2010-toeriste in Suid-Kaap bespreek
GEORGE - Eden-burgemeester, Leon Dorfling vergader vandag weer met verskeie toerismerolspelers en die Wes-Kaapse minister van Toerisme, Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Alan Winde, om die power 2010-besprekings in die Tuinroete te bespreek.

Die Japannese ambassadeur in Suid-Afrika en die SA ambassadeur in Japan is ook hard aan die werk om die Japannese sokkerondersteuners te oortuig om na die Suid-Kaap te kom.

Dorfling sê hulle kyk na elke moontlike manier om toeriste te lok. "Die swak opkoms is werklik ‘n krisis vir die gasvryheidsbedryf, daarom verg die situasie nou krisisoptrede.
"Die Japannese hou daarvan om in groepe te reis, so ons wil verskeie groepsverwante aktiwiteite soos byvoorbeeld gholfpakkette vir hulle aanbied. Hierdie pakkette word op groot skaal in drie stede in Japan bemark."

Druk op Fifa
Hy het ook gesê daar word tans druk op Fifa gesit om die syfers oor presiese kaartjieverkope in die verskillende lande beskikbaar te stel sodat die dorpe in die streek hulleself strategies kan bemark. "Ons moet weet watter mense kom na wedstryde in ons omgewing sodat ons bemarking spesifiek daardie mense kan teiken. My hart gaan uit na die gasvryheidsbedryf wat derduisende spandeer het en nou deur MATCH in die steek gelaat is."
Frankryk en Denemarke gaan tuis in Knysna, terwyl die Japannese span na verwagting op 6 Junie in George aankom.
Intussen loop die sokkergees hoog onder die Eden Munisipaliteit se personeel. Werknemers trek elke Vrydag hulle geel hemde aan en speel sokker om Bafana Bafana te ondersteun.

Organisasies wat aktiwiteite loods met die oog op Sokker 2010 kan gerus inligting en foto’s stuur na ilse@groupeditors.co.za.

Artikel: Ilse Schoonraad