Windskewe skopskoen sink Arende
GEORGE NUUS - Net 'n windskewe skopskoen en 'n omstrede drie in die doodsnikke het tussen die SWD Arende en 'n oorwinning oor die OP Kings gestaan toe die twee spanne mekaar op Outeniquapark gepak het.

Die Arende, wat tot die einde voorgeloop het, het uiteindelik met 25-27 verloor nadat hulle teen rustyd met 10-9 voor was.
Elich van Vuuren, die Arende se vlymskerp stelskopper, was beseer en heelagter Raynor Bekker moes hierdie taak oorneem. Hy het vier strafdoele, waarvan twee redelik maklik binne bereik was, verbrou. Cecil Drummond, wat ook 'n ervare stelskopper is, het met een doelskop misluk.

Die Arende het egter getoon dat hulle die mondering het om baie spanne in die Vodacombeker-kompetisie te pootjie. Met hierdie puik vertoning het hulle ook 'n waarskuwing aan die WP gerig wat Saterdag op Dysselsdorp teen die Arende uitdraf. Van Vuuren is steeds beseer, maar sy plaasvervangers het hierdie week baie tyd aan stelskoppe spandeer en sal hopelik beter teen die WP vaar.

Die Arende het teen die Kings van meet af getoon dat hulle alles gaan insit om 'n oorwinning te verseker.
Afgesien van 'n effe insinking in die tweede helfte het hulle enduit hul man gestaan.

Die agttal het voorlangs saggemaak en talle balle aan die agterlyn verskaf wat die besoekers by tye benoude oomblikke verskaf het.

Die Arende het in die proses drie keer gaan druk teenoor die Kings se twee.

Teen die einde het die tuisspan reeds begin feesvier toe die plaasvervanger-haker, Frank Herne, na 'n lang solo-lopie gaan druk en die tuisspan se doppie geklink het.

Daar was omstredenheid om die drie omdat daar gemeen is dat die aangee vorentoe was, maar die drie is toegeken en het die Arende van 'n welverdiende oorwinning ontneem.

Dit was vir al die ondersteuners vreemd dat Jeff Taljard, wat ook 'n erkende stelskopper is, nie geleentheid gekry het om pale toe te mik nie. As deel van die Grensspan was hy bekend vir sy akkurate skopskoen.

Lubabalo Mtyanda, wat knieligamente beseer het en nie vir ses weke kan speel nie, is hierdie week ook by die Arende se krukkelys gevoeg. Michael Vermaak en Elrich van Vuuren is ook steeds nie wedstryd gereed en kon nie vir die WP-wedstryd oorweeg word nie.

Buran Parks kry gevolglik geleentheid in die beginspan en Christo du Plessis, van Blanco United, is op die bank.
Die span is: 15 Deroy Rhoode, 14 Clinton Wagman, 13 Kempies Rautenbach, 12 Jeff Taljard, 11 Alshaun Bock, 10 Cecil Dumond, 9 Johan Herbst, 8 Lydon Hartnick (k), 7 Buran Parks, 6 Shawn Raubenheimer, 5 Hein Potgieter, 4 Hendrik Koekemoer, 3 Dean Hopp, 2 Xavior Scholtz, 1 Jean Rossouw.

Plaasvervangers: 16 Wayne Khan, 17 Anton van der Westhuizen, 18 Grant le Roux, 19 Christo du Plessis, 20 Mzoxolo Dyantyi, 21 Wentsley Scott, 22 Baldwin McBean.