GEORGE NUUSFLITS - 'n Werklose vrou van George, Antoinette Barlow (53) wat gister gevonnis sou word vir die 22 Julie 2011 huisroof en aanhouding van voormalige distriksverpleegster, Nossie Lawrence (83), is deur 'n George distrikshoflanddros vermaan om haar samewerking te gee sodat die verhoor kan klaarkry.
"In Oktober is dit meer as 'n jaar sedert die begin van die saak. Ek waarsku jou nou om jou samewerking te gee en jouself beskikbaar te stel aan die maatskaplikewerker (Liesl Smit) sodat sy die korrektiewedienste-verslag kan opstel."
So het distrikslanddros, Eleanor Mocke gebiedend gesê en voortgegaan: "Sy het twee maal die moeite gedoen om na jou woning te gaan om die verslag op te stel. Die eerste keer, op 9 Februarie 2012, het jy nie haar verwittig van jou nuwe adres nie en met die volgende hofverskyning op 1 Junie, is die verslag weer nie voltooi nie, aangesien jy hierdie keer weer nie tuis was soos afgespreek nie."
Barlow het by 'n vorige verskyning skuld beken en getuig dat sy Lawrence se huis in Heroldsbaai betree het met die doel om haar te beroof. Sy het haar voorgedoen as 'n sensusbeampte wat huisbesoek doen en die bejaarde vrou oorrompel en vasgebind met serpe. Sy het haar beveel om op haar maag te lê en kontant, juweliersware en reukwater gesteel.
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
Lees 'n vorige artikel hier.
|