SUID-KAAP NUUS - Ons is oorstelp van vreugde oor die oorwinning, maar dit hou ons ook nederig vir ons volgende stryd Vrydag teen die OP Kings in Port Elizabeth.
Dit is die reaksie van hoofafrigter Johann Lerm na die Arende se klinkende oorwinning van 46-8 oor die Grens Bulldogs op Ou-teniquapark. Met hierdie oorwinning het die Arende duidelike gevaartekens na die opponente in die Eersteliga van die Curriebeker-kompetisie uitgestuur.
Tog maan Lerm dat dit hulle niks gaan baat om nou grootkop te kry nie. Hierdie week was dit weer terug na die tekenbord om vir die volgende kragmeting voor te berei.
"Dit is 'n nuwe uitdaging wat sy eie eise gaan stel," het hy gesê.
Volgens Lerm het hulle vir vier weke hard gewerk op pad na die doelwit wat hulle teen die Bulldogs bereik het. Die span het ook op 'n kort toertjie na Plettenbergbaai en die Klein-Karoo gegaan waar hulle twee oefenwedstryde gespeel het. Een van hierdie wedstryde, die oorwinning oor die WP op Dysselsdorp, het die span 'n sielkundige hupstootjie gegee.
Lerm dig die span se sukses tot dusver aan harde werk en professionalisme toe.
"Ons werk daagliks tussen 8 en 5, het 'n professionele bestuurspan en bekom gereeld die dienste van ander professionele kenners om die spelers verder op te skerp. Ons konsentreer nie alleen op rugby nie, maar gee die spelers ook lewensonderrig met 'n geestelike ondertoon.
"Ons poog om die spelers in totaliteit te ontwikkel en die res kom vanself."
"Die groep beskik oor 'n gedugte bank plaasvervangers.
Die ideaal is dat jou bank amper sterker as die begin-vyftiental moet wees en ek glo ons is by daardie punt wat ook 'n groot invloed op ons werkverrigting op die veld gaan hê," het Lerm gesê.
Lerm het dieselfde beginspan behou vir die Kings-kragmeting en is veral bly dat daar geen beserings onder die spelers is nie.
"Beserings kan jou kanse in die wiele ry soos ons verlede seisoen ondervind het. Nou hou ons net duim vas dat ons geluk vanjaar gedraai het," het Lerm gesê.
Die volgende kragmeting op Outeniquapark is aanstaande Vrydag teen die Pumas wat ook nie 'n maklike neut gaan wees om te kraak nie.
Gelukkig vir die Arende sal hulle voor hul tuisskare uitdraf.
Die Arende-span vir Vrydagaand se wedstryd is:
15 Elric van Vuuren, 14 Balwin McBean, 13 Stokkies Hanekom, 12 Jeff Taljaard, 11 Alshaun Bock, 10 Kurt Coleman, 9 Johan Herbst, 8 Michael Vermaak, 7 Wilhelm Koch (k), 6 Dumisane Meslane, 5 Lehan Koekemoer, 4 Grant le Roux, 3 Grant Kemp, 2 Hans van Dyk, 1 Jean Rossouw.
Plaasvervangers: 16 Sydney Tobias, 17 Dean Hopp, 18 Giant Mtyanda, 19 Wayne Khan, 20 Mzo Dyantyi, 21 Deroy Rhoode, 22 Clint Wagman.
ARTIKEL: JANNIE MEYER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
|