|
|
|
|
Jacquiline du Plessis, een van die leerlinge van Van Kervel Skool wat in 2010 gehelp is deur die Princess Project.
|
SUID-KAAP NUUS - Vir die kinders wat dit nie kan bekostig om aan die einde van hul skoolloopbaan hulle eie matriekafskeid by te woon nie is daar nuwe hoop met die Princess Project.
Hierdie inisiatief is reeds drie jaar gelede deur twee vroue van Kaapstad begin, waarna dit uitgebrei het na 'n tak in Pretoria, Durban, 'n tweede tak in Kaapstad en nou ook een in George. Daar is al oor die projek berig op die televisieprogramme Top Billing en Kwêla. Janine Paton het die projek in 2012 oorgedra aan Cilla Smith en haar komitee, Chantal Louw, Lameez Abrahams en Cedric Buys.
Hierdie projek gaan daaroor om vir minder bevoorregte meisies en seuns wat nie 'n uitrusting kan bekostig nie, die geleentheid te gee om na die dans te gaan en soos 'n prins en prinses te voel in 'n pragtige rok en aandpak.
Die idee is dat die gemeenskap hulle ou uitrustings wat stof vergaar aan die projek skenk, wat dan aan geskikte kandidate geleen word.
Cilla en haar komitee benodig uitrustings van verskeie groottes en style. Hulle verlang donasies van die volgende items: aandrokke, balrokke, aandpakke, hemde, dasse, skoene, sandale, handsakke en juwele, grimering, hangers, kleresakke, skoendose, klerekaste- en reëlings.
Ander maniere waarop mense kan help, is met die droogskoonmaak van uitrustings asook die verstelling of herstel van kledingstukke. Hulp word ook benodig met mooimaak-sessies op die aand van die geleentheid - met die naels doen, hare doen, fotografiese dienste en selfs met die vervoer in 'n spoggerige motor. Kontant skenkings kan selfs gebruik word vir genoemde behoeftes of vir droogskoonmaakdienste of verstellings.
Om betrokke te raak by die projek, kontak Cilla Smith op 074 740 8961.
|